Seisoene – winter het aanspraak gemaak op sy posisie in die natuur. En dit hoort so, ons het dit nodig. Die natuur gaan deur ‘n sekere proses om die lente en somer sy beste te kan gee. Net so het somer en herfs hulle pragtige doel sodat winter sy beste kan gee. Die kringloop is eintlik fenomenaal, maar ons as burgers van die land het gemengde gevoelens, en soek altyd iets om oor te kla.
Op sosiale media kla die volk oor die koue, maar die sitrus boer glimlag breed, daar is ‘n oes op pad. Ek persoonlik geniet glad nie die winter nie, want dit gaan gepaard met baie klere. Ek is gemaklik in ‘n kort broek, T-hemp en plakkies dankie. Maar ek geniet die winter vir twee redes alleenlik. Vir een daar is weer lemoene en nartjies. En tweedens daar is minder goggas, veral muskiete. Niks wat ‘n nagrus opfoeter soos ‘n muskiet nie. En hier by ons in die bosveld is hulle so groot hulle gooi ‘n skaduwee soos ‘n arend. As hy bietjie vinnig kom land, gee hy jou sommer ‘n blou kol.
Seisoene in die natuur kom geluidelik en is nie ‘n oornag gebeurtenis nie. Dit is om ons en die natuur voor te berei vir wat gaan kom. Die heelal beweeg in harmonie met die tyds berekening van ons natuurlike seisoene. Al wat stilstaan is die son. Die natuur gryp elke geleentheid aan, want groei is die hoofdoel. Die wilde diere ken ook die seisoene, en die natuur beter as die mens. Hulle weet wat gebeur, en wanneer dit gaan gebeur, terwyl ons ‘n knaap op TV sit met ‘n duimsuig vooruitsig van die weer.
Seisoene in ons lewens kom skielik, ongenadiglik en sonder waarskuwing. En ons het dit nodig. Ja ek weet 100% van die mensdom stem nie saam nie. Wel stagneer waar jy is, dit is ok. Onthou ‘n groef word ‘n graf. Groei moet soos ‘n natuur vir ons wees. Mense wat heeltyd streef na beter en werk daarvoor ervaar seisoene soos almal, maar hulle verkies die glas half vol. Dit los spasie vir groei en skep geleenthede. Vir hulle bestaan daar geen ‘comfort zone’ nie.
Vir die persoon wat die glas half leeg sien, is die seisoene hard en ongenadiglik, behalwe as dit ‘n goeie seisoen is. Dit is gewoonlik mense wat emosionele besluite neem. Geen wilde dier in die veld neem ‘n emosionele besluit nie. Hulle leef elke dag voluit, want om te sterf is nie ‘n opsie nie. Die glas half vol se inhoud gaan een of ander tyd dood en beteken niks. Want daar is niks wat inkom om dit vars te hou nie. En gewoonlik is dit die verlede wat mense so vashou. Ek weet ek was een hulle.
Ons moet elke seisoen koester. Ons moet ook in harmonie beweeg met ons persoonlike seisoens verandering, al wat moet stil en sterk staan is ons geloof. Elke oomblik is ‘n geleentheid om die half vol glas te laat oorloop.
Groete.



