‘Botox’ – nou vra ek jou met trane in my oë, wie dink die goed uit? Is die mense so behep met hulle gesiggies en lyfies dat ‘n onnatuurlike voorkoms die norm is? Ek dink televisie, skoonheid tydskrifte en geld gedrewe mense dra die skuld vir die sonde. Almal wil soos hulle “idols” lyk. Kom ons wees eerlik, ek dink nie Tom Cruise wil soos enige van ons lyk nie. Ek glo diep in my hart dat Jennifer Lopez nie soos die tannie in ons plaaslike biltong kêffie wil lyk nie. Dan dink ek ook rêrig hulle wil nie hê jy moet soos hulle lyk nie, want dan is hulle ook nie meer uniek nie.
Ek wil ook nie vir die res van my lewe jonk lyk nie. Ek is net baie bly plooie is nie pynlik nie. Dit help ook nie jy lyk soos ‘n skool seun of dogter maar die lyf val uit mekaar uit soos ‘n model T Ford nie. Jy glimlag met jou vals sneeu-wit tande, maar kan nie ‘n lekker stuk biltong afbyt nie. Dit help ook nie jou gesiggie is plooiloos maar jy het drie viagras nodig om nie jou voete nat te piepie nie.
Kyk nou die dag na een van ons eie plaaslike Afrikaanse sangeresse, en daar herken ek die pop nie. Soos ‘n aap vra ek “nou wie is die?” Toe hulle haar naam sê toe ek kry ek eintlik skaam vir haar part. Sy is so styf getrek, tot die stembande klink na silikoon. Hoekom? Wat is die nut van alles?
Vals ooghare, vals tande, grimering, vals boobies en boude, vals hare, gesiggie opgepomp tot 3 ‘bar’, vals naels en op geverfde sonbrand en jy soek opregte liefde. Genade dit is nou vir jou ‘n ding. As jou lyfie vals is, hoe is jou hart en siel? Dink nie dit kan te opreg wees nie. Kom wees nou eerlik, almal kyk na ‘n mooi mens.
Mans weet waarna hulle kyk, en die nooiens weet waarvoor hulle kyk. Lees gou mooi hier, net die mooiste siele kry die regte verhoudings. Geen kuit, beursie, bors, “six-pack” of opgepompte lip bou ‘n verhouding nie.
Mȏre is daai aardse geite weg, en wat dan? As jy rêrig mooi wil lyk, doen dit op die natuurlike manier. Oefen, drink water, slaap genoeg, eet gesond, gebruik jou roompies, glimlag en manifesteer ‘n mooi hart en siel. So eenvoudig soos dit. Dit is nie “rocket science” nie. Koester elke litteken, rekmerk en plooi. Want dit is waar ons stories en wysheid vandaan kom. Onthou elke rekmerk het ‘n naam en is groot gemaak en is daardie ouer se trots. Elke litteken het ‘n storie, soms van oorlewing. En elke plooi beteken jy het gelag, gehuil en gelewe.
Groete.


