Groot skade voorkom

HOEDSPRUIT -  Pieter Papsdorf, voorsitter van die Hoedspruit Dorpswag het die volgende instansies bedank vir die vinnige en effektiewe optrede Saterdagnag 2 April 2016 nadat ‘n brand in een van die bekende gastehuise in Hoedspruit uitgebreek het. Hy het gesê dat die vinnige optrede erge skade verhoed het. Alarm was om 22:49 gemaak en die laaste opruiming was 1 uur voltooi.

  Dorpswaglede was eerste op die toneel. Drie dorpswagpatrollies was in Hoedspruit op diens met die uitbreek van die brand. Pieter het die brand opgemerk en onmiddellik alarm gemaak en hulp oor die radio aangevra en die brandweer is gekontak. Die drie patrollievoertuie van die Dorpswag was vinnig op die toneel. Die eerste taak was om die gaste en inwoners uit die gebou te verwyder.  Aanvanklik was daar geen water beskikbaar nie agv die skade wat reeds deur die brand veroorsaak was. Die voorsitter het die lede wat patrollie gery het, bedank vir hulle vinnige optrede en waardevolle bydrae.

  Na die oproep was die brandweer baie vinnig op die toneel en was dit moontlik om te begin om die vuur te blus. Pieter het gesê dat daar ongelooflike goeie samewerking was tussen die verskillende groepe wat kom help het. Die brandweer het op die toneel gebly todat die gebou veilig was en inwoners en gaste veilig was.

  Plaaswag en die SAPS het ook hand by gesit en op die toneel gehelp.

  As voorsitter van Dorpswag, het Pieter opgelet dat hy diep ontroer was deur die vele lede wat laat op ‘n Saterdagaand sonder om  te skroom hulp kom aanbied het. Hy het gesê dit is ‘n baie besonderse gemeenskap wat so vinnig kan reageer en so vinnig die regte ding kan doen. Hy het benadruk dat die gemeenskap moet besef dat dit met enige iemand kan gebeur en daarom moet almal waaksaam bly. 

­

News

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first